Tuesday, 07 December 2010

Article in Today's Beeld Newspaper (Afrikaans)




Op haar eie wil sy Afrika op ’n fiets gaan tem

2010-12-07 08:50
Artikelopsies Deel Kry Beeld op

RIËTTE GROBLER

Jolandie Rust droom daarvan om die eerste vrou te word wat op haar eentjie op ’n fiets om Afrika ry, skryf RIËTTE GROBLER.

Wanneer Jolandie Rust (26) in Februarie 2011 die grens tussen Suid-Afrika en Namibië op haar fiets oorsteek, is sy nie van plan om terug te keer totdat sy Afrika deurkruis het nie.

Rust, ’n Johannesburger, skat dit gaan eers oor sowat 40 000 km en 34 lande en ná bykans 3 jaar wees. Teen daardie tyd wil sy haar droom van ’n soloreis reg om die vasteland verwesenlik het.

Dit was ook in die saal van haar fiets, met die naam Luna, wat sy tussen Oktober 2009 en Januarie 2010 vrou-alleen om Suid-Afrika gery het – van Johannesburg tot in Richardsbaai, al om die kus en Springbok langs terug huis toe. ’n Allemintige 5 951 km in 100 dae.

“Almal weet al, hulle kan vir my sê ek moenie ’n ding doen nie, maar ek sál as ek die besluit geneem het,” sê sy skouerophalend.

“My fiets se naam is Luna, oor my pa nog altyd sê ek’s met die maan gepla. Vriende noem my ’n sigeuner, omdat ek nie juis iemand is wat al ooit wortel geskiet het nie.”

Die fietslus het haar in Israel gepak, toe sy en ’n vriend besluit het om die land eerder op fietse as te voet te verken.

“Ons het in die middel van die somer deur die oorloggeteisterde Gasastrook gery. Ons kon nie die taal praat nie en is eendag kilometers ver deur ’n skreeuende man op ’n donkie agterna gesit,” sê sy. “Dit was dáár wat die droom begin ontkiem het om my eie land en vasteland te verken.”

Nou is daar ’n groot regmerkie langs “Suid-Afrika” op haar lys van doendinge en die volgende avontuur wag.

“My soloreise deur Suid-Afrika het my geleer waartoe ek op ’n fiets in staat is en het my laat besef dit is moeilik om te sê wat onmoontlik is,” sê sy.

“Ek het wonderlike, inspirerende en vrygewige mense ontmoet. Die boodskap was duidelik: ander glo in my, bloot omdat ek die moed het om daad by my woord te voeg. Ek het hul lewe geraak en hulle myne en ek het geweet dít is ’n boodskap wat ek oor ons landsgrense wou neem.”

Rust glo sy kan vrou-alleen ’n bewys wees dat enige doelwit haalbaar is. Sy is van plan om ’n groot bohaai oor die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte op te skop, veral wat armoede-verligting teen 2015 betref.

“Luna dui ook op die lig wat ek op sogenaamde ‘donker’ Afrika se probleme wil skyn. Dit help nie mense gooi net geld nie, hulle moet die moue oprol en aan probleme wérk,” sê sy.

Met ’n bietjie Portugees, Frans en die Swahili wat sy van plan is om onder die knie te kry, glo sy kommunikasie sal nie onmoontlik wees nie.

Dit is egter veral met ’n djembe-drom, haar gunsteling-instrument, wat sy beoog om oor die taalgrens heen met mense te kommunikeer.

“Ek wil met my aankoms in dorpies op die drom speel om aan te kondig ek is daar,” sê dié vreeslose, doodkalm dromer.


Riëtte Grobler is ’n joernalis van Buite.

Jolandie Rust beplan al die laaste paar jaar aan haar solofietsrit om Afrika. Foto: Herman Verwey

Help Jolandie
Hoewel Jolandie Rust haar fietstoer onder die Trots Suid-Afrikaans-vaandel aanpak, moet sy self borge werf en gaan daar geen ondersteuningspan saam nie.
Geen wonder sy soek nog ondersteuning nie.
Kontak haar by jolandie.rust@gmail.com as jy wil help, en volg haar blog, http://jolandie-rust.blogspot.com.



Facebook Group
Needs List

No comments: